Vriende met pote

Jan 5, 2016 by     No Comments    Posted under: Hünd news

Julle is nou gereed vir ’n nuwe lid van die gesin – ’n harige een. Maar hoe kies julle ’n hond by wie die kinders veilig is – en andersom? DEUR JORISNA BONTHUYS

Daar is geen spesie behalwe honde wat uit ’n evolusionêre oogpunt só suksesvol by ’n lewe saam met mense aangepas het nie. Maar is Canis familiaris ook ’n kindervriend?

Absoluut, sê Natasha Prinsloo, ’n ma van Swartklip in Limpopo. “Ons Jack Russell, Sally, pas ons woelige driejarige op. My kind stuit vir niks nie en ons het heelwat slange in die omtrek. Die twee is ewe stout, maar ek is soveel meer gerus met haar by hom.” As sy die een soek, hoef sy net die ander te roep. “Dis die beste geskenk wat ek nog vir my kind kon gee: ’n regte oppasser en maat.”

Nie almal is so seker nie. Nadia Hulme van Vereeniging vertel haar kind is op twee deur twee jong boelterriërs aangeval. “Sy was reg langs my en het nie eens in die honde se rigting gekyk nie. Gelukkig was mamma naby en sy het net skrape opgedoen.”

Natasha Pretorius van Pretoria had ’n soortgelyke ervaring. “Ons het ’n boerboel gehad, so 16 maande oud. My dogtertjie was toe amper twee.Sy het die middag nog bo-op die hond geklim. Ek was gelukkig in die vertrek. Drie gebreekte vingers en sewe steke later het ons die hond laat uitsit.”

Maar hoekom wil ’n hond dan ’n kind byt?

Daar is nie iets soos ’n hond wat “uit die bloute” byt nie, sê Karin Pienaar, ’n dieregedragkenner by ThinkingPets COAPE SA in Johannesburg.“Die hond wys altyd tekens om te waarsku hy is ongemaklik. Jou hond vermy byvoorbeeld heeltyd jou kind, draai sy gesig weg, lek aanhoudend sy lippe en beur weg met sy kop.

“Hy raak moontlik ook baie aandagtig wanneer die kind naby is, hou sy lyf en stert styf terwyl hy verbyloop, grom of die hare op sy rug staan regop.”

Baie troeteldiereienaars ken nie dié seine nie en neem eers kennis van hul hond se ongemak wanneer hy knor, hap of byt, sê Gill Pirow, ervare dieregedragkenner en honde-opleier van Kaapstad. “Te dikwels hoor ’n mens nog dat ouers sê hul hond het sonder waarskuwing gebyt, terwyl die hond in werklikheid lankal waarskuwingseine uitstuur. As hierdie seine verkeerd gelees word, kan ernstige beserings volg, veral as ’n klein
kind betrokke is.”

Hoe kies ek ’n hond?

Doen jou huiswerk oor die temperament en gedrag van honderasse, sê Gill. Raadpleeg ‘n gekwalifiseerde dieregedragkenner of jou veearts. “Honde is histories geteel om sekere werke te verrrig en nie alle honde is ideaal vir kinders nie.” Honde se aard en temperament verskil en jy wil seker maak jy kry ’n hond wat goed gesosialiseer is en by jou huishouding sal inpas.

Daar is nie ’n “regte” of “verkeerde” honderas vir kinders nie. Die beste hond, meen Karin, is ’n hond wat van kleins af gesosialiseer is met kinders en wat gemaklik in hul teenwoordigheid is, ongeag sy ras. “Honde wat baie kleinserig is, soos miniatuur-pinchers en yorkshireterriërs is dikwels nie ’n goeie keuse vir baie klein kinders nie juis omdat hulle so maklik seerkry. Sommige groter honderasse moet fyn dopgehou word omdat hulle dalk kinders kan omhardloop. Met enige hond is dit belangrik om nie die hond en kind saam alleen te los nie, en om albei te leer
om saggies met mekaar te speel.”

Kies ’n hond wat by jou gesin se leefstyl pas. “Moenie ’n aktiewe hondesoort kies as jy nie gereeld met jou hond wil gaan stap nie. Maak seker jy het genoeg tyd om jou honde op te lei. Hond en kind moet albei leer hoe om veilig met mekaar om te gaan. ’n Mens moet werk aan ’n hond as jy wil hê hy moet hom by kinders kan gedra. Dit sal behels dat jy jou jong hond by ’n goeie hondeskool inskryf en sowat ’n jaar lank laat klasloop.
Kies ’n skool wat positiewe beloningsmetodes inspan en nie op uitgediende strafmaatreëls fokus nie,” sê Karin.

Snacks for free range dogs

Begryp jou hond

Karin sê jy moenie jou hond straf as hy waarskuwingstekens gee dat hy ongemaklik is naby jou kind nie. “Maak die ervaring vir hom so plesierig
moontlik. Gee hom ’n lekkerny as jou kind naby is. Beloon hom ook as hy kalm in jou kind se teenwoordigheid bly. So begin hy jou kind met positiewe dinge vereenselwig.”

Soms byt ’n hond eenvoudig weens skrik, sê Karin. “Dit gebeur meestal as die kind oor die hond val of op sy stert trap wanneer hy slaap. Dit
is nóg ’n rede waarom jou kind net onder toesig by die hond mag wees.”

Leer hoe jou hond se kop werk. Nes mense raak honde soms omgekrap, hulle voel onseker, ervaar irrasionele vrese en reageer emosioneel
op isolasie. As ’n paar sulke stressors saamval, kan jou hond sy bytdrempel oorsteek.

Elke hond verskil ook wat vorige ervarings, gemoedstoestand, temperament en stressors betref. Een word omgekrap deur ’n harde knal, ander skrik vir bebaarde mans met hoede op en ’n ander wantrou besoekers. Sommiges word ontstig deur donderweer, of volg al so lank ’n ongebalanseerde dieet dat dit hul gemoedstoestand beïnvloed. Party is van nature bang of skrikkerig en kan makliker hap wanneer hulle bedreig
of bang voel.

Die meeste van die sowat 400 honderasse is maar nog net sowat 150 jaar lank met ons. Oorspronklik is honde geteel om sekere take te
verrig, soos om kuddes op te pas of saam met mense te jag. Dié gedrag is geneties ingeprent in jou hond se brein. Moet dus nie verbaas wees
as jou skaaphond die kinders begin aankeer, jou corgi hul hakskene byt of jou labrador sokkies aandra nie.

Watter soort hond byt?
Boelterriërs en rottweilers word dikwels daarvan beskuldig dat hulle kinders byt, maar dit is nie noodwendig so nie, skryf die Amerikaner dr. Sophia Yin, ’n internasionaal bekende dieregedragkenner, in haar blog. Worshonde, cockerspanjoele, labradors en golden retrievers was al betrokke in gevalle waar kinders jonger as 10 jaar noodlottig gebyt is. In die meeste gevalle was dit kinders wat alleen sonder toesig by dié troeteldiere gelaat is.

Madeline Gabriel, ’n Amerikaanse honde-opleier wat in die gedrag van honde teenoor kinders spesialiseer, sê in ’n aanlynartikel ouers kan baie daarby baat om hul hond se gedrag van naderby te bestudeer. “Hoe lyk jou hond wanneer sy ontspanne en gelukkig is? Watter veranderinge bespeur jy as jou hond besorg of oorweldig voorkom? Waar bevind jou hond hom op die lyftaalspektrum? Neem foto’s in jou geestesoog en dink oor jou hond se lyftaal. Jou hond hou jou altyd op hoogte van sy gemoedstoestand. As die hond nie rustig en gelukkig lyk nie, is iets fout. Dit beteken nie dat jou hond jou kind gaan byt nie, maar wel dat hy moet leer hoe om bepaalde situasies te hanteer. So nie gaan hy net ál ongemakliker raak omdat sy lyftaalseine nie raakgesien word nie.”

Madeline meen ouers moet mooi oplet hoe hul hond in bepaalde situasies reageer. Verander jou hond se liggaamstaal byvoorbeeld as jou kind verbykruip? Is daar tye in die dag wanneer jou hond meer angstig lyk as ander? Is daar van die kinders se aktiwiteite wat jou hond ongemaklik maak, soos as jou spruite baldadig in die huis rondhol? “Soms het jou hond ’n klein bietjie hulp nodig. Dit is dan dat ek vir my kinders
sê: Ons hond raak nou bekommerd. Jy moet stadig deur die huis loop, sagter praat of buite gaan speel.”

Sophia beskou vrees as die grootste rede waarom honde kinders byt. “Dit verbaas mense, veral as Wagter so goed met die grootmense oor die weg kom. Dikwels is Wagter egter nooit met kinders gesosialiseer toe hy klein was nie. Hy beskou grootmense as veilig en babas en kinders as vreemd. “Eienaars besef dikwels nie eens hoe bang hul hond vir hul baba is nie. Omdat ’n baba nie juis beweeg nie, kan die hond wegbly. Sodra die kind begin kruip of loop en aanhou om naby Wagter te kom, begin hy grom of lig sy bolip as waarskuwingsteken.”

Soos kinders kan honde hulle wangedra as hulle nie anders geleer word nie. Jou hond sal dus aanhou om jou kinders om te spring tensy hy geleer word om iets anders te doen. As jy op hom skree, gaan hy net verskrik en angstig naby jou word. As jy hom slaan of rondruk, kan dit kwaai emosionele letsels laat.

child-and-dog

Maak reëls

Die goue reël: As jy nie tyd het vir ’n hond nie, moet jy nie een kry nie. Moet ook nie ’n hond kry omdat jou kinders een wil hê nie. “Die snaaksigheid van ’n nuwe hond taan en dan moet jy na die hond omsien,” sê Gill. “Hoewel kinders onder sewe aangemoedig kan word om te help met ’n hond, kan hulle nie volle verantwoordelikheid aanvaar nie.” Honde en kinders kán heel gemaklik in een huis bly, mits sekere reëls gehandhaaf word.

“Honde moet van kleins af met kinders gesosialiseer word,” sê Karin. “Dit kan ’n taamlike skok wees vir ’n volwasse hond as hy die eerste keer ’n kleinding sien en hoor. Kinders moet ook geleer word om diere met respek te hanteer en nie aan hulle te slaan trek of knyp nie. Dis nooit ’n goeie idee om jou hond en kind saam alleen te los nie, ongeag hóé rustig jou hond by kinders is. Ongelukke gebeur net te vinnig!”

Hoe oulik ’n hond al is, is daar ’n gevaar dat hy jou kind kan aanval – tensy kind en hond van dag een af reg geleer word.

Honde se gedrag word ook beïnvloed deur hul ouers se temperament, asook hul omgewing en hoe hulle grootgemaak is. Dis daarom belangrik om jou hond in die eerste vier maande van sy lewe aan kinders bloot te stel. “Hoe meer vriendelike en prettige interaksies jou hond met kinders van allerhande ouderdomme kan hê, hoe beter,” sê Karin. Dit is nie altyd maklik om saam met kleuters te leef nie – ook nie vir jou hond nie. Kinders wil dikwels speel op maniere wat die hond sal verdra, maar waarvan hy nie noodwendig hou nie, soos wanneer sy ore getrek word. Leer jou kind hoe om mooi met jou hond te speel. Selfs as jou hond jou kinders toelaat om hom hardhandig te hanteer, is dit meestal nie pret vir die hond nie, sê Madeline.

“Beskou elke interaksie met ’n troeteldier as ’n leergeleentheid vir jou kind en troeteldier. As jy toelaat dat jou kind jou hond verniel, leer hy dat kinders onvoorspelbaar is en kan bang maak. Jou kind leer dat dit aanvaarbaar is om jou hond te terg of om vreemde honde ’n drukkie te gee.”

Moet dus nie dat jou kind jou Brakkenjan onnodig verrinneweer nie. Behandel jou hond met respek, leer jou spruit om dieselfde te doen en bowenal: Geniet die vriendskap tussen jou hond en jou kind.

IMG_9923

Praktiese raad

● Monitor spel tussen jou kind en hond en keer as dinge te rof raak.

● Leer jou kind om altyd te vra of hy ’n hond mag groet en om nie bloot af te storm op ’n hond wat eet of slaap nie.

● Sorg vir ’n veilige lêplek waar jou hond kan rus en alleentyd deurbring.

● Leer jou hond goeie maniere. Kan hy sit, wag, kom en los as jy vra?

● Sorg dat jou hond gereeld ingeënt en ontwurm word en veearts toe gaan.

● Doen jou huiswerk voor jy ’n nuwe hond aanskaf. Dit help nie jy kry ’n werkshondjie met hope energie as jy hom gaan inhok in jou meenthuistuin sonder die nodige oefening en aandag nie.

● Gee jou hond genoeg aandag. Daarsonder kan hy probleemgedrag ontwikkel.

 

**Die artikel het oorspronklik verskyn in 2013 in die September-uitgawe van Baba&Kleuter.

Nog inligting by:

www.drsophiayin.org

www.dogsandbabieslearning.com

www.thinkingpets.com

 

Got anything to say? Go ahead and leave a comment!

XHTML: You can use these tags: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

Archive

Recent comments

    The science of behaviour

    Categories