Terapeute wat stertswaai

Jan 12, 2016 by     No Comments    Posted under: Hünd news

Terapeute wat stertwaai

Al gehoor van sielkundiges met vier pote? Diereterapie vir kinders word ál gewilder. DEUR JORISNA BONTHUYS

Vir Vanessa Williams (6) van Bothasig is leestyd deesdae nie meer so moeilik nie.

Haar leesvriend, Moses, ’n golden retriever, gee glad nie om as sy hakkel nie. Hy blaf ook nie as sy ’n fout begaan nie, al het sy eers gedink hy sou.

Haar juffrou sê haar klankwerk word ál beter. Dis seker omdat Moses so mooi na haar luister wanneer sy vir hom lees.

Klein Francis de Villiers (4) van Boston hou daarvan as Phoebe by die skooltjie kom kuier.

Phoebe se ore is lekker sag as ’n mens dit vryf. Francis kan vir Phoebe dinge vertel waaroor sy nie eintlik met die grootmense wil praat nie. En as dié labrador by is, is Francis ook nie so skaam om met haar juffrou te gesels oor die dinge wat tuis gebeur nie.

Dierondersteunde terapie en aktiwiteite word al lank ingespan in die behandeling van depressie, angs en eensaamheid by grootmense. Navorsing wys dit verbeter onder meer sosiale en kommunikasie-vaardighede asook mense se gemoedstoestand. Mense se bloeddruk, hardklop en angs daal wanneer hulle met honde in aanraking kom.

Annemie Daly, ’n opvoedkundige terapeut van Kaapstad, glo “diereterapeute” kan egter ook kinders soos Vanessa en Francis (skuilname) baie help. “Kinders van alle ouderdomme kan daarby baat,” sê sy. “Diereterapeute kan ingespan word in van eenvoudige interaksies tot gestruktureerde psigoterapie saam met ’n professionele terapeut.”

Sulke terapie en aktiwiteite kan onder andere kinders help wat hakkel of aan trauma blootgestel is, sê Daly, wat onder meer dierondersteunde terapie aan kinders in hoërisiko-groepe en kinderhuise gee. Sy pas dit individueel en ook in klein groepies toe in die teenwoordigheid van haar twee honde, Phoebe en Jet.

“Die feit dat die honde ’n rustige omgewing sonder vooroordeel skep waarin die kinders veilig voel, stel hulle onmiddellik meer op hul gemak.” Annemie, direkteur van Sixtyonethree, ’n nieregeringsorganisasie wat spesialiseer in nie-indringende terapeutiese dienste, sê dierondersteunde terapie en aktiwiteite het opvoedkundige, sielkundige en emosionele voordele.

 

Navorsing wys dat dit baie suksesvol is, onder meer vir kinders met gedragsprobleme en kinders met outisme of Asperger-sindroom, berig die joernaal Psychology Today. Naas honde en perde word plaasdiere, hase en dolfyne ook soms ingespan.

“Ons praat nie hier van werkshonde soos gidshonde vir blindes nie,” verduidelik Annemie. “In dierondersteunde terapie maak die hond deel uit van ’n spesifieke behandelingsplan. Dié soort terapie, wat die band tussen mens en dier benut, is uitkomsgerig, die sukses kan gemeet word en dit word deur opgeleide terapeute soos sielkundiges en opvoeders toegepas.”

Dit kan ook meer informeel wees, byvoorbeeld wanneer opgeleide vrywilligers en hul terapiehonde hospitale en skole besoek. “Dit help vir kinders wat swaar dra aan ’n diep seer, soos die dood van ’n ouer, ’n egskeiding, asook kinders wat geweld beleef het, misbruik is of baie in hulself gekeer is,” sê Annemie. “Honde help kinders om empatie te leer, op nieverbale kommunikasie te reageer en hoe om te fokus en hul impulse te beheer. Diereterapeute kan kinders ook help om meer selfvertroue en ’n gevoel van eiewaarde te ontwikkel.”

Eintlik niks nuuts

Terapie en aktiwiteite met die hulp van diere wen sedert die sestigerjare wêreldwyd veld. Dit het gebeur nadat Boris Levinson, ’n Amerikaanse kindersielkundige, in die 1960’s agtergekom het sy pasiënte vorm gou ’n band met sy hond, Jingles.

Boris het gevind dat kinders hul gevoelens beter kon uitdruk in die teenwoordigheid van sy hond, wat hulle as ’n veilige gespreksgenoot beskou het. Dit gaan oor meer as om net met diere te speel en by hulle te wees, hoewel dít ook talle voordele inhou, sê die organisasie Pets Partners, wat terapiehonde en ander diere soos perde in Amerika as terapiediere sertifiseer.

Annemie sê as ’n mens honde inspan as deel van ’n terapieproses – van ’n kind koestering te aanvaar. Kinders kan ook verantwoordelikhede aanleer met die hulp van troeteldiere. Die idee is nie dat die kind se interaksie met die hond sy of haar interaksie met die terapeut of ander mense vervang nie, verduidelik Annemie.

“Kinders ervaar die hond as nieveroordelend en sy teenwoordigheid help daarom om vertroue te vestig. My hond Phoebe se teenwoordigheid dien byvoorbeeld dikwels as dryfveer wat ’n kind sover kry om sy of haar emosies uit te druk en te wys.

“Diere bied kameraadskap en onvoorwaardelike aanvaarding, wat kinders sommer vroeg in ’n sessie al op hul gemak stel.”

“DIERGESTEUNDE TERAPIE HELP VIR VAN LEESPROBLEME TOT DIE VERWERKING VAN TRAUMA. ”

Waarmee help dit?Kinders wat in die hof moet getuig tot een wat sukkel om ’n egskeiding of die dood van ’n familielid te verwerk. Hierdie terapie gee ’n kind ekstra emosionele steun en help dit om sosiale vaardighede te vestig. Mishandelde kinders kan met behulp van terapie met diere geleer word om

Sus, Daan … en Woef!

Volgens dr. Marieanna le Roux van die Universiteit Stellenbosch se departement sielkunde help honde as leesvriende ook kinders om meer selfvertroue te kry en hul leesbegrip te verbeter. Marieanna is gemoeid met die Lees– Ukufunda–Read-program. Dit skep ’n veilige omgewing waarin kinders hul leesvaardighede kan oefen met die steun van opgeleide vrywilligers met geregistreerde terapiehonde.

Dié leesprogram is die Suid-Afrikaanse weergawe van die sogenaamde Read-program, waar Read staan vir Reading Educational Assistance Dogs. Dit is daarop gemik om leesvaardighede te verbeter met behulp van ’n leesspan wat uit vrywilligers bestaan. Marieanne, wat haar doktorsgraad voltooi het oor die uitwerking van ’n troeteldier-ondersteunde leesprogram op die leesvaardigheide van gr. 3-kinders in ’n Bolandse skool, is ook gemoeid met Pets as Therapy (PAT).

Vrywilligers van dié organisasie bring terapeutiese besoeke aan hospitale, ouetehuise, skole en spesiale skole. Tydens interaksie met honde kry die kinders ’n kans om te ontspan, hulle vergeet dat hulle sukkel om te lees en beskou lees dan as iets lekkers. “Wanneer kinders vir ’n hond lees, word die hond ’n buffer vir die angs en spanning van hardop lees,” sê Marieanna. Hoewel dier-ondersteunde terapie en aktiwiteite vir kinders nog taamlik nuut in SA is, wen dit toenemend veld.

Annemie is gemoeid met Oak Tree Academy, ’n privaat skool in Gordonsbaai wat deesdae terapie en aktiwiteite gesteun met diere as deel van sy leerplan bied. Elke klas het ’n troeteldier wat in die leerproses ingespan word.

Verskeie projekte vir groter kinders is ook op pad. The Underdog Project verskaf weer groepterapie gesteun met honde van ’n plaaslike skuiling aan tieners van ’n Kaapse township wat in ’n hoë-risikogroep is. Soms help ’n stertswaaiende terapeut om die regte stemming te skep, of die brug tussen kind en mens-terapeut of vrywilliger te bou.

Annemie het Phoebe gebruik om twee sussies te help wie se ouers besig was om deur ’n baie lelike egskeiding te gaan. “Die pa was aan pornografie verslaaf en het van die foto’s en video’s op die kinders (onderskeidelik vier en agt jaar oud) se rekenaar in hul kamer afgelaai. Die kinders het op van die beeldmateriaal afgekom en seksueel eksplisiet begin optree.

“My werk was nie net om die kinders deur die trauma van die egskeiding te help nie, maar ook om vas te stel aan hoeveel van die pornografie hulle blootgestel was. Phoebe het ’n sagte en gemaklike stemming geskep en die kinders het veilig by haar gevoel. So kon ons gouer met terapeutiese ingrypings vorendag kom.”

child-and-dog

Viervoetige terapeute kan kinders ook help om hul vrees vir ander diere te oorkom. Annemie vertel: “Ek het onlangs met ’n sesjarige seuntjie gewerk wat deur ’n hond gebyt is. My honde sowel as ’n sagmoedige friesperd genaamd Lily het hom gehelp om sy vrees te oorkom.

“In sy geval het die terapie behels dat hy saam met Jet en Phoebe, eers net een op ’n slag, en later saam met Lily op ’n plaaswerf rondstap. Die kind het binne drie maande só gevorder dat hy pleks daarvan om angsaanvalle te kry sodra hy ’n dier gewaar, by ’n ryskool aangesluit en met Phoebe en Jet gaan stap en gespeel het.”

Nie alle honde het die temperament en sosiale vaardighede om ’n terapiehond te word nie. Honde van verskillende rasse, groottes en ouderdomme wat vriendelik en verdraagsaam is en genoeg selfvertroue het, kan oorweeg word. Die honde kry die nodige opleiding en moet die regte temperament hê om met kinders te werk.

Streng riglyne en protokolle geld wat hul emosionele welstand, gesondheid en veiligheid betref. “ ’n Mens kan seker sê terapiehonde verskaf medisyne sonder die newe-effekte,” sê Annemie. “Diere reageer onmiddellik en leef in die oomblik, en hul ‘pasiënte’ kry dus onmiddellik terugvoer.”

’N HOND AANVAAR JOU ONVOORWAARDELIK, AL MAAK JY FOUTE WANNEER JY VIR HOM VOORLEES. ”

Pote bou brûe

Die idee is dat die kind vir die hond lees en vir hom prentjies en moeilike woorde wys. Kinders met ’n lae selfbeeld gesels makliker met ’n terapiehond as ’n volwassene, sê Intermountain Therapy Animals, ’n Amerikaanse organisasie wat in dierondersteunde terapie spesialiseer. Dis omdat die hond hulle onvoorwaardelik en niekrities aanvaar, en dan is hulle kalm en vrymoedig genoeg om vrylik te lees of gesels.

Marieanna verduidelik: “Troeteldierondersteunde terapie en aktiwiteite is nie dieselfde as om ’n troeteldier soos ’n goudvis in die klaskamer aan te hou nie. Dit behels baie meer. Die opgeleide terapiehond kom besoek die kinders in die klas of biblioteek en word vergesel van ’n opgeleide vrywilliger. Aan die einde van die besoek gaan hy weer huis toe.”

Nuttige webtuistes: www.sixtyonethree.com; www.pat.org.za; www.petpartners.org; www.animaltherapy.net;  www.underdogproject.org.

**Die artikel het oorspronklik verskyn in 2014 in die Oktober-uitgawe van BABA & KLEUTER (www.yourparenting.co.za).

Got anything to say? Go ahead and leave a comment!

XHTML: You can use these tags: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

Archive

Recent comments

    The science of behaviour

    Categories